Vegetariese braai

Volgende naweek die tyd is ek in sonnige Suid-Afrika (tik ek nou, terwyl die sneeu buite val…). Ek is dan oppad na ‘n braai saam my skoolvriende (van hulle ken ek al 30 jaar!), en het die lekkerste vegetariese braai goodies in my kar, want ek wil dit duidelik maak – vegetaries wees is heerlik, bevrydend, gesond, en braai gaan oor meer as die grootste bloubulsteak wat jy by die slaghuis kan koop.
As daai braai rein vegetaries was, sou ons so geëet het:
Waatlemoen en fetaslaai saam vars klein spinasieblaartjies vir groen, en bietjie basilika room vir skop. Mens kan dit ook op stokkies sit, dan hoef niemand ‘n bord te hê nie.
Of dalk hierdie slaai as mens meer lyf nodig het: boontjie slaai met feta en olywe.
‘n Varsgebakte brood (sommer van daai deeg wat mens by die kafee koop), saam lekker interessante konfyt.
En die hoogtepunt van die braai – heerlike sosaties, met die volgende op: uie, sampioene, soetrissie, haloumi kaas, ‘n sagte gedroogde perske en dalk ‘n worsie van Fry’s. Dit word verkieslik die vorige dag al in ‘n marinade gelê, dalk iets met olyfolie, heuning, balsamiese asyn, … Moet nog bietjie dink die week (verkieslik eers na my eksamen Maandag!) Die triek is natuurlik om dit oor LAE hitte en STADIG te braai.

Wie het dan nog vleis nodig??

ps. die blog (waarvoor ek geen tyd het nie, want ek moet swot, dammit), is na aanleiding van Toortsie se blog (wat my uit die swot hou ;) ) oor “soekenjinaanwysers”, waar ek sien dat baie mense op my blog land as hulle vegetariese resepte soek. Ek moet meer resepte opsit!

Posted in vegetariese resepte | Tagged , | 17 Kommentaar

Die vlooiplaag

Lekker warm en nat weer is ideaal vir vlooie om ‘n mens se huis en alles in dit oor te neem. Die maklikste om te sien dat daar vlooie in jou huis is, is om jou diere dop te hou. Krap en knibbel hulle heeltyd of meer as normaal aan hulle vel? Gaan kyk waar die dier slaap – sien jy klein swart krummels rondlê op die dier se bed? Dis “vlooipoefie” wat eintlik maar net droë bloed is. Jy kan toets of dit van ‘n vlooi kom deur die swart krummels op ‘n wit stukkie toiletpapier of sneesdoekie te sit en nat te maak met klein bietjie water. As jy dan met ‘n harde voorwerp daaroor vryf dan word dit rooi = bloed. As jy mooi kyk kan jy ook klein vlooieiers op die lêplek sien, hulle is wit en ongeveer 1 mm lank. Larwes sien mens selde, maar hulle is bietjie langer. Dit beteken dan onmiddellik iets doen!

Stap 1: Besoek jou veearts en koop slegs professionele, getoetse middels (die wat mens in supermarkte kan koop is nie effektief nie = geldmors!). Die algemeenste middel in Suid-Arika is Frontline (Plus). Daar is verskillende Frontline vir honde en katte, en ook afhanklik hoe groot die dier is. Dis ‘n klein ampulle vloeistof wat op die vel in die nek aangebring word. Laat die veearts dit doen as jou dier nie stil sit nie (anders is dit orals behalwe op die dier). Dit werk omtrent onmiddellik en die dier begin vreeslik krap soos die vlooie probeer vasklou aan die lewe, maar dit eintlik verlaat … Dit mag dalk duur voel, maar dis baie effektief en regtig die moeite werd. As jy dit gebruik hoef jy nie die hond te was nie.
Stap 2: Stofsuig – alles – beddegoed (joune en die hond s’n), matte, meubels en veral die vloer- en muurlysies waaronder vlooie kan wegkruip en eiers lê.
Stap 3: Daar is ook ‘n Frontline Sproei wat jy op die dier (en meubels) kan aanbring.

Helaas help een keer nie om die probleem heeltemal onder beheer te kry nie. Die ampulle moet gedurende die somer verkieslik een maal per maand aangebring word. In die winter kan mens in groter afstande behandel, of as die gebied andersins nie onder ‘n vlooiplaag ly nie, kan mens in die winter dit los. En hou die beddegoed skoon, ook, of dalk eerder veral, buite as dit is waar die dier slaap.

Het jy geweet:
Klein katjies en hondjies was oorval is met vlooie kan aan bloedarmoede ly!
Die vlooiwyfie kan tot 456 eiers per dag lê, en die kan binne 1 tot 10 dae uitbroei.
Frontline werk teen bosluise ook.

Hier is Frontline se Webwerf in SA vir meer inligting:
http://frontlineplus.co.za/Pages/default.aspx

Posted in diereraad | Tagged | Lewer kommentaar

Chili sin carne

Almal het seker chili con carne (chili met vleis), né? Wel, te danke aan Fry’s kan mens nou ook heerlike chili sin carne (sonder vleis) maak!

Bestanddele:
‘n Pak Fry’s Vegetarian Mince (lyk soos 300 g)
(alternatief 300 g grof gekrummelde tofu)
1 kg lekker ryp tamaties
2 rooi soetrissies
1 klein brandrissie (of soveel na smaak)
‘n blik tamatiesous
‘n blik suikermielies
‘n blik “kidney beans”
1 teelepel chilipoeier
1 teelepel soet paprikapoeier
1/2 teelepel ina paarman se knoffelsout

Vegetariese maalvleis saam sout en peper vinnig in olie braai. Sit ‘n geperste huisie knoffel by as jy wil. In die tussentyd was en syn die tamaties in klein blokkies. Ontpit die soetrissie en brandrissie (ek het net ‘n kwart gebruik, na smaak), sny in klein blokkies en prut saam die tamaties vir omtrent 10 minute in ‘n groot, diep pan of pot. Voeg die tamatiesous by en geur met die chilipoeier, paprikapoeier en knoffelsout. Spoel die boontjies en mielies af en gooi saam die vegetariese maalvleis by die tamatiesous. Proe daaraan en pas geur/brand aan soos nodig.

Gaan goed saam tortilla chips, nachos of ‘n skoot suurroom (eintlik meer teen die brand as jy baie brandrissie gebruik het). Die chili proe die volgende dag nog beter!

ps. ek het dit nog die met Fry’s se maalvleis gemaak nie (mens kry dit nie hier nie), maar soos wat ek op die webwerf lees klink dit ideaal. Koop dit by enige supermark – dis gewoonlik in die gevriesde kosafdeling.

Posted in vegetariese resepte | 1 Kommentaar

“Leerblok”

Voel of ek vanoggend min in my kop kry, maar ek het darem ‘n bietjie “kuns” gedoen, en dag ek wys dit vir julle. Die senuwees wat die voorbeen (regs) en agterbeen (links) van ‘n hond, bees en perd versorg. Bo en onder is voor en agter. En dis eintlik net drie voor (N. radialis, N. ulnaris en N. medianus) en twee agter (N. fiburalis en N. tibialis) wat sulke wilde vertakkings maak. Bo in die been is daar nog ten minste tien (wat nie sulke wilde takke maak nie) ander wat ek ook moet ken en weet watter spiere hulle versorg met senuwees.

In elk geval, dalk moet ek net gou eers my lessenaar netjies maak…

Posted in dagboek | 1 Kommentaar

Agterbeen lig nou en dan

Nee, die skrywe gaan nie oor daài beenlig nie, maar het jy dit al ooit gesien by klein honde, veral die chihuahuas (kan dit maklik sien want hulle het kort hare), dat die hond loop en dan soms sy of haar been lig in die loop, hink op drie bene, en dan weer normaal loop? Dit is ‘n ingeteelde verskynsel by klein honderasse waar die patella (knieskyf) uit sy plek gly na die binnekant van die been. Dit spring dan weer vanself weer in sodra die kwadrisepspiere ontspan. As daar geen simptome is nie, hoef mens nie noodwendig iets daaraan te doen nie. Maar as dit erger word kan dit pynvol wees en tot rumatiek lei. Dan kan mens chirurgies iets daaraan laat doen. Mens kan a) die stukkie been van die tibia waar die patella ligament aanheg verskuif dat die patella nie meer uit kan glip nie, of mens kan b) die groef op die femur waar die patella in rus dieper maak deur ‘n stuk been (keil) uit te sny, kleiner te sny en weer terug te sit. Baie belangrik is om fisioterapie te doen om die spiere rondom die knie te versterk. Dit word baie keer aanbeveel om eers die spiere op te bou voor daar geopereer word. Ook belangrik is dat die hond se gewig beheer moet word. Mens sien helaas te veel klein honde wat lyk of hulle met ‘n fietspomp opgeblaas is van al die “lekker kossies” – ‘n swaar hond ly definitief swaarder aan enige siekte of probleem as ‘n ligte hond!

Posted in dagboek, diereraad, stories | 1 Kommentaar

Bakkersdosyn – 4 Januarie 2012

Posted in dagboek | 3 Kommentaar

Rugprobleme by perde

Toortsie se blog vandag oor perdry het gemaak dat ek iets wou skryf oor wat ons in die klas geleer het noudie dag oor perde se rûe (skryf o.a. daaroor eksamen einde Januarie, so dis soos swot).
Al lyk dit nie so nie, is perde baie sensitiewe diere. Hulle word gouer siek en herstel stadiger as honde, katte, varke of beeste. Baie perde word ook onnodig pyn aangedoen – veral resiesperde, en as gevolg van die mens se selfsug word baie perde dan uitgesit wat nog ‘n “normale” lewe langs die resiesbaan kon voer. In elk geval, terug by hulle rûe.
Anatomie (baie kort): die ‘n perd het 7 nekwerwels (soos elke soogdier), 18 borswerwels (mens 12) en 5-6 lendewerwels (mens 5) – dus ‘n lang rug. Die werwelgroei word eers met ses jarige ouderdom afgesluit, wat relatief laat is (en natuurlik problematies as hulle verkeerd gery word op ‘n jong ouderdom). Die werwelkolom het altesaam meer as 185 gewrigte! Maar i.v.m. die mens is die perd se rug relatief onbeweeglik. Elke werwel het doringuitsteeksels (na buite, boontoe) en syuitsteeksels na die kante waar spiere aanheg (dorings – rugspiere), en in die borsgedeelte natuurlik ook die ribbes. Bo-op die ruggraat kom natuurlik belangrike spiere wat die perd se groot liggaam dra. Die nekband, ‘n dik spiermassa bo-op die nekwerwels (afrikaans?), en so paar belangrike rugspiere (M. longissimus dorsi) is baie belangrik vir die stabilisering van die rug, en as dit geaktiveer is maak dit dat die perd minder moeg word (sogenaamde “boonste spanning” – vry vertaal), ook as hy of sy iemand op sy/haar rug moet dra. Dan is die perd vry om sy rugspiere te gebruik vir hardloop en asemhaling (nie om die ruiter te dra nie!). Die aktivering vind outomaties plaas as ‘n perd loop en wei en sy nek na onder gestrek is om gras te eet.
In die prentjie hier bo links is hoe ‘n perd gewoonlik beweeg en regs is wat gebeur as die perd se nek heeltyd gestrek is – sogenaamde “kissing spines”, met benerige groeisels aan die werweluitsteeksels bo wat dan aanmekaar raak – ‘n baie pynlike ervaring!
En dis waar die probleem inkom – wanneer ‘n mens perdry is die perd kwalik in daardie posisie. As jy weet wat jy doen as ruiter, kan jy die perd help om die “boonste spanning” te aktiveer. Die perd moet daarvoor gesond en fisiek fiks wees met gesonde, sterk spiere (nes ‘n mens wat ‘n swaar gewig moet dra), en moet die perd reg opgewarm word voor mens gaan ry sodat die rugspiere nie kramp nie (vir meer detail moet mens iemand vra wat professioneel met perde te doen het). Natuurlik is ‘n slegte saal ook fataal vir ‘n perd se rug – net soos ‘n rugsak wat sleg sit, kan ‘n slegte saal baie skade aan ‘n perd se rug doen.
Iets wat ‘n sterk indruk op my gemaak het is dat selfs mense wat goed ry en olimpiese medaljes wen met perdesport nog altyd vir perdrylesse moet gaan. Net omdat jy bo kan bly meen nie jy kan reg perdry nie (ek meen dit nie persoonlik nie, Toortsie!!), en as jou perd duisende rande kos (sien, ek meen meer vir sulke mense) moet mens soveel te meer weet wat jy doen om die perd ‘n rugpynvrye lewe te gee. Ek dink ook terug aan toe ek jonk was en saam mense op die plotte gaan “perdry” het, en wonder nou hoeveel aande het daai perde met rugpyn gaan slaap oor mense wat nie weet wat hulle doen nie? Ek dare jou, Toortsie, kry daai perd en wys ons hoe word dit gedoen (natuurlik op jou nuwe blog gewy aan perdry ;) .

Posted in dagboek, diereraad, stories | 3 Kommentaar

Ter ere van

My man wys my vandag ‘n artikel op BBC van kontroversiële standbeelde, o.a. een wat in Engeland opgerig is deur anti-viviseksie aktiviste van die National Anti-Vivisection Society in 1906 ter ere van ‘n hond wat in ‘n viviseksie deur ‘n professor oopgesny is voor klomp mediese studente by die University College London. Sweedse feministe wat die klas geïnfiltreer het, het gesê die hond was by sy bewussyn, terwyl die professor natuurlik meen dit was nie so nie. Die National Anti-Vivisection Society bestaan al sedert 1875, lank voor dit wetenskaplik erken was dat diere ook kan pyn voel…
Ek was altyd 100 000% gekant teen dieretoetse en as ek kon teruggaan in tyd en mense verhoed om dit in die eerste plek te begin sal dit my die blyste maak. Maar die feit is ongelukkig dat heelwat medisyne en chirurgiese terapie wat deesdae vir diere gebruik word, was eers op dier getoets. Ek is nogsteeds teen psigologiese toetse op diere vir menslike gewin, en verseker teen dieretoetse vir kosmetika. Maar ek werk nou by die Parasitologie afdeling en daar word toetse op diere gedoen, maar vir diere. In feite is die hele veeartseny wêreld helaas vol dieretoetse. Mens moet jouself net altyd afvra of die toetse regtig nodig is, kan dit geregverdig word vir die “greater good”?

Nog gou terug honde standbeelde toe – ek weet van twee standbeelde vir honde in Suid-Afrika: een is natuurlik Jock of the Bushveld, een van my kinderhelde, wat langs die pad iewers in Mpumalanga staan (dis die een wat ek gesien het; daar’s glo nog een in Baberton). En die ander is Just Nuisance, ‘n Great Dane wat die enigste honde-lid van die Britse Royal Navy in Simonstad was rond 1940.

ns. weet iemand dalk van ander honde standbeelde in Suid-Afrika? (of katte?)

Posted in stories | Lewer kommentaar

Lekker nuwe jaar vir die labdiere

Ek werk by die labdiere oor nuwe jaar, en gaan seker maak hulle gaan die nuwe jaar met styl in: neute en vrugte vir die rotte en muise; ‘n ektra (net klein bietjie) porsie hooi vir die skape, en vir wat buite hulle stal het en nog met die koue ook moet veg, ‘n ekstra porsie kragvoer. En die varke kry vars appels wat ek by die boer om die draai gekoop het. Natuurlik ook ‘n paar mooi woorde oor hulle diens vir ander diere en ‘n vryfie vir die wat wil. Voorspoedige nuwe jaar aan hulle!

Posted in dagboek | 2 Kommentaar

‘n Hartseer middag

Ons het vandag prakties gehad – lamheid by beeste. Eers het ons aan regte koeibene geleer hoe mens ‘n diagnostiese verdowing maak by die onderbeen (vanaf die karpal of tarsale gewrig ondertoe) om uit te vind watter deel van die been of klou kan beseer wees.
Toe gaan ons in ‘n ander ondersoekkamer waar daar ‘n koei op ‘n tafel vasgebind was, wat ‘n faktuur het. Die koei is een jaar en drie maande oud, so nog baie jonk. Haar bene is nog nie heeltemal toegegroei nie, en sy het dus ‘n fraktuur op die groeizone van haar linker voorbeen (afhanklik van watter been, groei dit eers met 5 of 6 jaar toe). Die fraktuur is al 10 dae oud, en dit maak dit natuurlik meer kompleks om iets daaraan te doen. Die prof. het dit op ‘n konserwatiewe manier weer probeer oormekaar skuif. Dit het bietjie minder komplikasies as om die been te opereer, en dit kom natuurlik altyd daarop neer hoeveel die boer bereid is om te bestee om sy bees te help. Hy kon die groeizones heeltemal opmekaar kry nie, nog so 2-3 mm skeef, maar het gips aangesit, en hoop dat dit stabiel genoeg is. Sy sal seker rumatiek in daardie been kry, maar dit maak nie saak nie – alle beeste sterf voor hulle tyd, so dit sal haar nie op haar ou dag pla nie ☹
Net toe ons wou loop, sê die een assistent daar kom nou ‘n koei wat baie erg hink en glad nie op haar been kan trap nie. Haar linker voorbeen was vreeslik geswel, en was duidelik baie seer. Ook sy is op die ondersoektafel gelê (sy staan eintlik langs die tafel, wat regop geslaan is – vertikaal – en word dan vasgebind. Die tafel word dan horisontaal platgeslaan. Haar naam was Milva en sy was darem ‘n relatiewe oue 9 jaar (beeste kan eintlik 20 jaar oud word as mens hulle waardig laat oud word). Die veearts het ‘n sonar van haar been gedoen – dit was geswel tot by haar karpalgewrig. Daar was duidelike swelling in die gewrig met fibrienvorming, ‘n flegmoon (bakteriële infeksie van die weefsel) en trombose. Sy het iewers seker ‘n besering opgedoen – hooivurksteek in die been, of iets in die stal (hulle is almal vasgebind) – en die boer het dit eers gesien toe sy nie meer op die been kon staan nie.
Die besluit was om haar uit te sit, of nog meer korrek – te skiet, dat die vleis nog vir roofdiere gebruik kan word. Trane was baie na by my. By ‘n mens kan mens dit probeer oplos deur bloedverdunner te gee, en oop te sny, spoel, antibiotika ens. ens. Maar ‘n koei is dit nie werd nie, en vir my steek dit vreeslik vreeslik dwars in die krop. Dink nie ek sal ooit kan gewoond raak dat die mensdom soveel meer vir sy eie spesie omgee as vir ‘n ander spesie, wie se kinders hy van hulle ma’s wegvat en wat hy dwing om vir hom kos en klere te lewer nie (ek weet, ek klink soos ‘n vasgehaakte grammofoonplaat, maar dis waar!).

Posted in dagboek | Lewer kommentaar